Swart mis

In die satanistiese tradisie verwys die term swart mis na 'n religieuse plegtigheid, wat, soos veronderstel word, op die Sabbat plaasgevind het. Dit was in wese 'n parodie van die Christelike mis, en sy hoofdoel was die ontwyding van die hostie, of misbrood, alhoewel die outeurs, wat die swart mis in hulle boeke beskryf het, geen besonderhede verstrek oor die herkoms van die ontwyde misbrood en die presiese manier waarop hulle ontwy sou word nie. Dikwels word die ontwyding as 'n ritueel in verband met seksuele praktyke beskryf, alhoewel daar ook nie ooreenstemming oor die aard van rituele is nie.

Sommige Middeleeuse skrywers beweer dat die misbrood deur 'n padda, 'n raap of 'n stukkie gedroogde vleis vervang is, maar die meeste regters en skrywers het geglo dat die misbrood van Christelike priesters gekom het, wat 'n kontrak met die duiwel gesluit het en die misbrood in sy opdrag aan die deelnemers van 'n swart mis oorhandig het.

Volgens die Middeleeuse bygelowe het die swart mis sy hoogtepunt in 'n uitbundige fees bereik.

Daar is egter geen bewyse dat mense ooit 'n swart mis soos hierbo beskryf gevier het. Die beskrywings het uit die pen van die Christelike inkwisiteurs gekom, wat beweerde "hekse" en "towenaars" gemartel het totdat hulle 'n kontrak met die duiwel en deelname aan 'n swart mis erken het.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy